OOS-KAAP – Fritz Joubert was glo nie ’n kommersiële boer nie, sê Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap.
Luidens ’n persverklaring deur Stern was die landbou-organisasie geskok na Joubert vir Anele Hoyana vermoor het, en Hoyana se familie op sy leefstyl-landgoed gyselaar gehou het. Joubert het glo by Hoyana geleer om ’n sangoma te word.
Stern sê volgens inligting was Joubert waarskynlik versteurd. Die polisie se optrede in die situasie was geregverdig, sê hy.
Joubert was ’n Eskom-subkontrakteur wat op ’n leefstyl-landgoed naby Ganubie net buite Oos-London gewoon het. Stern sê Joubert was nie ’n boer of deel van enige georganiseerde landbou-organisasie nie.
“Om na hom te verwys as ’n boer en haat teenoor die boeregemeenskap aan te hits, is onverantwoordelik,” verduidelik Stern.
“Dit ondermyn die pogings van regte boere wat aan ’n inklusiewe, veilige landbousektor bou.”
Stern sê die voorval soos dit op sosiale media versprei word, sal enige normale persoon ontstel. Hy sê die voorval moet egter as ‘n “geïsoleerde voorval” van ’n erg versteurde persoon beskou word.
“Wat gebeur het, is tragies, maar om die opinie van die publiek teen die boeregemeenskap te draai, is goedkoop politici. Daarteenoor moet gewaak word,” sluit Stern af.
Die ondersoek duur voort.



