Dit is einde van die jaar en die wind is uit jou seile, maar dis ook amper tyd vir die lang vakansiepad! Het jy al begin dink wat presies om in te pak sodat die reis so gemaklik as moontlik sal wees? Of jy nou die ongelooflike Tuinroete deurreis, of selfs net ‘n paar dae neem om jou eie agterplaas te verken – ons het ‘n basiese reislysie saamgestel om jou te help.
Jou voertuig is belangrik
Om onodige spanning te voorkom, asook ‘n ramp op die pad, maak seker dat jy hierdie lys afmerk ten minste twee dae voor jou reis begin. Dit is uiters noodsaaklik vir jou padreis.
- Bestuurslisensie – op datum en veilig by jou ten alle tye.
- Motorvoertuiglisensie – op datum en aangebring in die lisensiehouer van jou voertuig.
- Al vier motorbande in goeie toestand en gepomp tot die spesifikasies van jou motorboekie. Onthou, jou voertuig gaan swaarder wees met al die bagasie, so maak voorsiening daarvoor met die regte druk van jou bande. Moenie jou noodwiel vergeet nie. Dieselfde geld vir jou noodwiel as vir jou ander vier motorbande.
- Maak seker al jou ligte asook jou aanwysers se gloeilampies werk. Hou ekstra gloeilampies in jou motor vir ingeval een van hulle uitbrand op jou reis.
- Is jou voertuig se diens op datum? Dit is van kardinale belang. Jy wil nie gestrand langs die pad staan omdat jy ‘n diens gemis het nie.
- Noodhulptassie wat ten alle tye in die voertuig bly.
Benodighede om die reis te vergemaklik
Dit help baie om hierdie lysie ook na te gaan voor jy vertrek. Baiekeer kom mens agter dat jy iets vergeet het wat sou help om jou langpad korter te maak.
- Spaargeld – want kontant is nogsteeds koning by baie padstalletjies.
- Flitslig – indien jy in die aand reis, kan hierdie liggie baie handig te pas kom.
- Insekdoder – niks is so irriterend soos ‘n vlieg of muskiet in die motor waarvan jy nie ontslae kan raak nie. Probeer so ver moontlik ‘n natuurlike opsie wat jou gesondheid in ag neem. Kyk ook vir ‘n kannetjie wat nie onder druk werk nie.
- Groot waterbottels – indien jy gestrand raak, is dit noodsaaklik om gehidreer te bly. Hou ‘n paar groot bottels in die motor in geval van nood.
- Toiletrol – ook bekend as witgoud! Moenie sonder voorraad vashaak nie!
- ‘’USB’’ foonherlaaier.
- Reisspeletjies – ideaal vir gesinsuitstappies om die kinders te vermaak as daar baie tyd in die motor is.
- Komberse en kussings indien jy ‘n slapie wil neem terwyl iemand anders bestuur. Ook ‘n groot hulp met die kinders om hulle gemaklik te hou.
- Ekstra plastieksakkie.
- ‘Wet wipes’ – kom baie handig te pas vir taai hande of om jou te verfris.
- Padkos!
Jy kan enigiets by hierdie lys voeg. Geniet jou vakansie en reis asseblief veilig!



