Fiona Viotti, die voormalige onderwyseres van Bishops College, het glo met vyf leerlinge van dié skool onvaspaste verhoudinge gehad. Dit het vanaf 2013 tot 2019 plaasgevind.
Guy Pearson, skoolhoof, sê in ‘n verklaring die skool het vasgestel daar was minstens vyf voorvalle van onvanpaste seksuele gedrag teenoor leerlinge.
Dit het aan die lig gekom ná onderhoude met die betrokke partye.
Die skool kan geen tugstappe teen Viotti neem nie, omdat sy reeds op 11 Oktober bedank het.
Pearson sê die ondersoekers het bevind Viotti was in stryd met die skool se gedragskode vir onderwyspersoneel en die kode vir professionele etiek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders. Pearson sê die skool werk steeds met die owerhede saam om die voorvalle te ondersoek.
Hy sê tydens die ondersoek by die skool kon nie bevind word dat die skool van die vermeende seksuele wangedrag bewus was nie, aangesien Pearson self eers op 10 Oktober oor die beweringe ingelig is.
Die ondersoek is deur adv. Francois van Zyl SC van die Kaapse Balie en Graeme Dorrington van Dorrington Jessop-prokureurs gedoen en volg nadat dit aan die lig gekom het Viotti het glo seksueel-eksplisiete foto’s en video’s aan van die skoolseuns gestuur. Verskeie van dié video’s en foto’s doen glo steeds die rondte.
Pearson het gesê die skool sal voortgaan om die waardigheid en privaatheid van almal wat betrokke is te respekteer.
Viotti se prokureur, William Booth, het voorheen gesê hy glo nie daar is enige bewyse dat Viotti ‘n misdaad gepleeg het nie en daarom is daar geen grondslag vir ‘n strafregtelike klag nie.



