Amsa moet geleentheid aangryp om Saldanha Staal te verkoop

NASIONAAL. – Solidariteit maan ArcelorMittal South Africa (Amsa) om honderde poste te red deur sy Saldanha-staalaanleg te verkoop. Belangstelling in die Saldanha-aanleg deur twee onbekende kopers kan tot gevolg hê dat die ongeveer 1000 werknemers wat weens die sluiting van hierdie aanleg hul werk kwyt sou wees, hul werk sal kan behou.

“Solidariteit is ten sterkste gekant teen die sluiting van die aanleg. Alle moontlikhede om die aanleg te red, moet ondersoek word en die sluiting daarvan moet ten alle koste verhoed word,” sê Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die Metaal- en Ingenieursbedryf.

Dit volg na Amsa se aankondiging op 11 November 2019 dat hy beplan om sowat 1000 werknemers in die eerste kwartaal van 2020 af te lê wanneer hy sy aanleg in Saldanha in die Wes-Kaap sal sluit. Weens duurder grondstowwe, gereguleerde pryse en ’n afname in die vraag na staalprodukte is deelname aan uitvoermarkte glo nie volhoubaar nie.

“Die omvang van die beplande werksverlies deur Amsa sal katastrofies wees, nie net vir die werknemers en kontrakteurs wat by die aanleg werksaam is nie, maar ook vir hul families en gesinne en die groter gemeenskap. Die impak is enorm en sal ’n negatiewe uitwerking op die breër ekonomie van die Wes-Kaap hê,” voer Venter aan.

Solidariteit maan dat indien Amsa geen oplossing kan vind om die aanleg te laat voortbestaan nie, Amsa die aanbod om te verkoop ernstig moet oorweeg. “Alles moet gedoen word om werksekuriteit en volhoubare inkomste te verseker,” sluit Venter af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: