Rioolreuk opgeklaar wat woonbuurt terroriseer

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die gemeenskap van Beaconsfield het gisteroggend vroeg voor hulle wekkers wakker geskrik as gevolg van die walglike stank van riool wat in die lug gehang het.

Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, het ondersoek gaan instel en riool gevind wat by Mainstraat en Kaapstadweg uitborrel.

Hy is sedert 11:00 vanoggend saam met die sanitasie-span van die Sol Plaatje-munisipaliteit in die straat besig om die rioolstelsel in hierdie versengende hitte oop te maak.

“Die span werk onder geweldige moeilike omstandighede, maar voer hulle werk onvermoeid uit. Die hooflyn is geweldig vol sand en allerhande ander goed. Die span sal eers vannag omstreeks 00:00 klaar wees hier. Die rivier van riool aan die onderkant van Mainstraat is reeds ontblok en die area is besig om op te droog.”

Fourie sê dit is ongelooflik wat alles uit die sisteem kom – onder andere doeke, skeermesse, selfone, juweliersware, stukke glas, speelgoed en allerhande ander voorwerpe is daar uitgehaal.