Oorsaak vir helikopter noodlanding onbekend

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Volgens ’n persverklaring deur die Hohne-gesin het Peter Hohne, ’n bekende sakeman van Kimberley, vanmiddag daarin geslaag om ‘n noodlanding met die helikopter uit te voer.

Jahn Hohne, Peter se broer en besigheidsvennoot, sê die privaatvlug was gereël om flaminke by die Kamfersdam in die noorde van die stad te besigtig.

“Peter se ervaring as vlieënier het waarskynlik hulle lewens gered. Die rede vir die noodlanding is nog onbekend. Peter het daarin geslaag om die helikopter op sy onderstel neer te sit, alhoewel dit die grond hard getref het,” sê hy.

Hohne sê Rassie Erasmus, ‘n kollega, Hendrik Stroebel, nog ‘n kollega, en Greg Watcham, bestuurder van grondhantering vir Diaruk, was saam met sy broer op die vlug.

“Hulle wou Peter op die privaatvlug vergesel toe hy met die helikopter oor Kamfersdam gevlieg het om na die flaminke te gaan kyk.”

Die helikopter, ‘n Bell 505, behoort aan Diaruk, ‘n lugvaartonderneming wat deur die Hohne-broers besit word.

“Peter en die drie passasiers wat saam met hom gevlieg het, is beseer, maar hulle is almal in goeie hande en kan goed kommunikeer. Hulle is na die hospitaal geneem vir die nodige behandeling.

“Daar was ‘n dokter wat die noodlanding sien gebeur het. Hy was binne enkele minute op die toneel. Ons waardeer opreg al die hulp wat verskeie mense verleen het, veral die nooddienste wat na Peter en ons kollegas omgesien het. 

Dit is indrukwekkend hoe vinnig en uitstekend die nooddienste in hierdie noodgeval gereageer het. Ons kan hulle nie genoeg bedank nie,” het Hohne namens die gesin gesê.