Na gerugte van hondsdolheid in die Noord-Kaap, het FiND iT met Marli van de Wetering, veearts by Vets4All in Kimberley, gesels. Sy vertel waarvoor jy op die uitkyk moet wees en hoe jy jou diere kan beskerm.
Hoe gereeld kom hondsdolheid in die Noord-Kaap voor?
“In dié omgewing sien ons nie so gereeld hondsdolheid nie. Dit is nie noodwendig dat dit nie hier is nie; dit word dalk net nie gerapporteer nie.”
Hoe word dit na mense versprei?
“Hondsdolheid word oorgedra in die geaffekteerde dier se speeksel – m.a.w. wanneer die dier (hond of kat) jou byt, kan dit oorgedra word, of wanneer ’n boer met sy hand in ’n bees se bek, wat hy gedink het ’n been in die keel het, krap, kan dit ook so oorgedra word. Beeste wat hondsdolheid het, lyk baie keer asof hulle iets in hul keel of mond het en kwyl vreeslik. Dan wil die boer graag ondersoek instel en kan so blootgestel word aan die dodelike virus.”
Is dit geneesbaar of kan dit behandel word in diere en mense? Indien nie, wat is die volgende stap?
“Hondsdolheid is dodelik. Ek is nie bewus van iemand wat al hondsdolheid oorleef het nie. Diere word nie behandel vir hondsdolheid nie a.g.v. die swak prognose en die gevaar wat dit vir die mens inhou wat hom moet behandel.
Die protokol vir troeteldiere (hond/kat) in Suid-Afrika is as volg:
Wanneer die dier tekens wys van hondsdolheid moet dit dadelik by jou naaste staatsveearts aangemeld word. Indien jou privaat veearts die tekens sien, sal hy/sy dit by die staatsveearts aanmeld. Die dier se inentingsboekie moet op datum wees – m.a.w. hy moes op drie maande ’n inenting teen hondsdolheid gehad het, en nie binne 30 dae en nie langer as ’n jaar later die booster ontvang het, en dan elke derde jaar sy hondsdolheidinentings gekry het. Indien die dier se boekie op datum is en die inspuitings deur ’n veearts toegedien is, sal die dier vir ses maande in kwarentyn gehou word. As die dier nie tekens wys van hondsdolheid nie, kan hy huis toe gaan.
Indien ’n dier se boekie nie op datum is nie, word die dier summier uitgesit en word die brein weggestuur om te toets vir hondsdolheid. Daarom is dit van uiterse belang om seker te maak dat jou troeteldier sy inentings op die regte tye ontvang. Raadpleeg jou naaste veearts indien jy nie seker is nie.”
Wat is die tekens dat jou dier dalk hondsdolheid kan hê?
“Hondsdolheid veroorsaak ’n verandering in gedrag m.a.w. diere wat gewoonlik mak en vriendelik is, kan aggressief voorkom en diere wat gewoonlik wild is, raak ewe skielik mak (bv. ’n koedoe wat op jou gras kom staan en nie bang is vir jou nie).”
Algemeenste tekens:
- Kwyl baie erg.
- Sukkel om te sluk.
- Verandering in gedrag – soos bo genoem; loop dronk of swak in agterbene of voorbene of albei.
Kan mens dit voorkom?
“Die enigste manier om jou troeteldier te beskerm, is om hom te laat inent teen hondsdolheid. Daar is ook ’n inenting vir mense. Mense wat baie met diere werk (veeartse, dieregesondheidstegnici, veeartsverpleegsters ens.) laat hulself gereeld inent.”
Wat moet jy doen as jy vermoed jou dier het hondsdolheid?
“Wanneer jy vermoed jou dier het hondsdolheid, meld dit dadelik aan by jou naaste staatsveearts of by ’n privaat veearts wat die dier of situasie sal ondersoek en dan by die staatsveearts sal aanmeld indien nodig.”



