120 jaar herdenking van Anglo-Boereoorlog

Deel hierdie storie / Share this story

MODDERRIVIER. – Vandag is die 120 jaar herdenking van die Anglo-Boereoorlog wat in 1899 plaasgevind het. Hierdie oorlog het ook die Slag van Twee Riviere, wat groot betekenis vir Kimberley het, ingesluit.

Die Anglo-Boereoorlog het vanaf 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 plaasgevind en was ’n stryd tussen Groot-Brittanje en die Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), die twee onafhanklike Boererepublieke.

Boererepubliek

Marius Nagel, ’n lid van die museumkomitee, sê na afloop van die uitgerekte stryd het die Boererepublieke hulle onafhanklikheid verloor en is by die Britse Kolonie van Suid-Afrika ingelyf. “Gedurende die oorlog het meer as 20 000 Britse soldate, 6 000 boeresoldate, 27 000 boere, vrouens en kinders in konsentrasiekampe en 20 000 swart burgerlikes gesneuwel.

Terugslag

“Die Anglo-Boereoorlog het  ’n geweldige sosiale en ekonomiese terugslag vir Suid-Afrika beteken, maar het gelei tot ’n nuwe vryheidstrewe wat tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 en die republiekwording van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 gelei het.”

Die Slag van Twee Riviere

Nagel sê Die Slag van Twee Riviere het op 28 November 1899 by die sameloop van die Modder- en Rietrivier plaasgevind. “Onder leiding van generaals Piet Cronje en Koos de la Rey het die Boeremagte loopgrawe en kanonstellings in die rivierwalle ingerig om lord Methuen se opmars na Kimberley te verhinder.”

Om 04:00 op 28 November 1899 het die Britse opmars na Modderrivier begin.

Sterfgevalle en gewondes

“Die Britse verliese was ongeveer 70 sterfgevalle en 413 gewondes. Die Boereverliese was ongeveer 16 sterfgevalle, 66 gewond en 13 is gevange geneem. Generaal De la Rey se seun, Adriaan, was een van die oorledenes.”

Monument

Nagel sê hulle gaan Saterdag 30 November 2019 om 16:00 ’n monument op die perseel van die Crown and Royal Hotel op Modderrivier ter nagedagtenis van die Boere en hulle agterryers wat gesneuwel het in Die Slag van Twee Riviere onthul. Dr. Louis Bothma is die hoofspreker tydens die geleentheid. Kranse sal ook deur verskillende organisasies by die monument gelê word.”

Foto: wereldwyd.co.za