Vrou ernstig beseer ná vragmotor op haar beland

Deel hierdie storie / Share this story

PORT ELIZABETH. – ’n Vrou is gistermiddag in haar motor vasgepen, toe ’n vragmotor van die brug bo haar afgery en op haar voertuig beland het.

Hierdie ongeluk het in Diazweg in Millard Grange, Port Elizabeth, plaasgevind.

Shawn Herbst, Netcare 911-woordvoerder, sê berigte op die toneel dui daarop dat die bestuurder van die vragmotor beheer verloor het.

“Paramedici op die toneel het ’n 26-jarige vrou, wat die bestuurder van die motor was, met ernstige beserings in die motor aangetref. Die brandweer en reddingsdienste moes hidrouliese werktuie gebruik om haar uit die wrak te bevry.”