Coral Mackrill-Botjes (51), ’n oud-Kimberliet met enorme talent, is tans besig om Suid-Afrika in die Karaoke World Championships in Tokyo, Japan, te verteenwoordig. Coral het vir FiND iT uit Tokyo ge-videocall en vertel vir ons meer oor haar drome.

Stem van ’n engel
Coral sing al vandat sy twee jaar oud is. Sy vertel vir FiND iT hoe sy een aand na ’n fondsinsameling genooi was, waarnatoe sy eintlik nie wou gaan nie. Haar vriendin het haar aangespoor om saam te gaan, al was dit net vir ’n paar ure. Sy het by die fondsinsameling ’n liedjie gesing en na die tyd het die CEO van die karaoke-kompetisie in Suid-Afrika haar genader.
Nadat sy besluit het om in te skryf, het sy dit met elke uitdun gemaak. Sy is toe deur na die streekskompetisie en uiteindelik deur na die provinsiale kompetisie. “Toe dit by die finaal kom, was my senuwees aan flarde.”
Sy het dit deur die finaal gemaak en is gekies om Suid-Afrika in Tokyo, Japan te verteenwoordig. “Dit was vir my baie spesiaal om te hoor ek gaan Suid-Afrika verteenwoordig in Japan, in dieselfde jaar en op dieselfde plek as wat die Rugby-wêreldbeker gewen is. Om hier te kan wees vandag, is ’n gevoel wat jy vir niemand kan beskryf nie.”
Coral se dit is vir haar die grootste voorreg om spesifiek vir Kimberley te verteenwoordig. “Suid-Afrika is so ‘n mooi en besonderse land. Ons het soveel om voor dankbaar te wees.”
Wat motiveer haar?
Coral se man is in 2016 oorlede en hy het altyd vir haar gesê: “Coral, you’ve got a talent that this world deserves to hear.” Coral sê dit is een van die grootste dinge wat haar motiveer. “Ek het eendag by ’n pastoor in die CRC-kerk in Kimberley gehoor mens se Godgegewe talente sal jou dryfkrag gee. Die feit dat ek dit gemaak het tot hier, beteken vir my ek is klaar ’n wenner. Ek kan net my beste doen, die res is oorgelaat aan die Here se genade.”
Drome vir die toekoms
“Een van my drome vir die toekoms is om die volkslied by ’n groot rugbywedstryd te kan sing. Ek sal ook graag in die nuwe jaar ’n optrede in Kimberley wil doen. Ek het baie planne vir myself, maar al wat ek kan vra is dat die Here my lei. Net hy weet wat in die toekoms gaan gebeur en wat hy vir my beplan.”
Inspirasie vir ander
“Moet nooit jou drome opgee nie. Daar gaan nog baie struikelblokke wees. Dit is hoe ’n mens leer, deur die pad wat jy stap. Mens moet leer om te verduur. Dit is hoe mense gevorm word. Hou vas aan daai bietjie hoop wat jy het en glo in jouself.”
Jy kan vir Coral stem deur na https://www.karaokeworldchampionships.com/live/ te gaan, te klik op “Vote Here” en dan Coral se naam te kies. Stemme is nog oop tot Vrydag. Die wenner vir die titel van Karaoke World Champion sal Vrydag gekies word.








