“Gevaarliker om ’n boer te wees as ’n polisiebeampte”

Foto: dieskaapraal.co.za

NOORDWES. – Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het in ’n onlangse verklaring gesê hulle sal voortgaan om druk op die regering te plaas om plaasmoorde en –aanvalle as prioriteitsmisdade te verklaar.

Fanie du Toit, lid van die VF Plus, sê hulle veroordeel ten sterkste die moord op Schalk van der Merwe en die wrede aanval op Lettie, sy vrou. “Die egpaar is Sondagmiddag op hulle plaas naby Wolmaransstad in die Noordwes aangeval.”

Vyf verdagtes wou na bewering skape koop en het Van der Merwe in ’n skaapkraal doodgesteek.

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat dit gevaarliker is om ’n boer in Suid-Afrika te wees as om ’n polisiebeampte te wees.

Landbou

“Landbou is nie net ’n beroep nie, dit is ’n roeping en elke Suid-Afrikaner se voortbestaan word bedreig deur boere wat vermoor word. ’n Misdaad teen ’n boer is ’n misdaad teen ’n hele gemeenskap – en nie net plaaslik nie, maar oor die hele land, want dit is een van die grootste faktore wat voedselsekerheid bedreig.

“Die tyd het aangebreek dat die ANC-regering die landelike veiligheidsplan uitvoer. Die stigmatisering en viktimisering van boere moet ook stop, want dit is nie net tot nadeel van die boere, hulle gesinne en werkers nie, maar ook die hele Suid-Afrika.

Veiligheid

Du Toit sê die VF Plus doen ’n beroep op alle plattelandse gemeenskappe om beheer oor hulle veiligheid te neem deur by die georganiseerde veiligheidstrukture in hulle omgewing aan te sluit en hulself te beskerm en te verdedig binne die voorskrifte van die wet.

“Ons betuig om innige meegevoel met die familie en vriende van die slagoffer en wens Lettie ’n spoedige herstel toe.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *