Geen geweld teen vroue en kinders

Deel hierdie storie / Share this story

UPINGTON. – Mans en vroue in blou het hier die “16 dae van geen geweld teen vroue en kinders” afgeskop deur pamflette uit te deel en die hoofboodskap, wat “breek die stilte” is, oor te dra.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê brig. Sampie Koopman het tydens die program ’n toespraak gelewer waarin hy ’n boodskap aan misdadigers oorgedra het dat die polisie hierdie feestyd geen verdraagsaamheid sal hê nie en dat hulle hard werk om die kernprobleem, wat dwelmmisbruik is, uit te wis.

“Hy het ook tydens ‘n onderhoud op Radio Riverside gesê dat die SAPD gereed is vir die feestyd en dat daar groter bedrywighede sal wees met meer polisiesigbaarheid en interaksie met die gemeenskap as oor die algemeen. Hy het verder gesê dat die polisie altyd beskikbaar en bereid is om te help, daarom moet die gemeenskap ook hard probeer om hulle veiligheidsmaatreëls gedurende die feestyd te verhoog.”

Sers. Omphile Masegela het op Swart Vrydag veiligheidswenke gegee vir diefstal uit motorvoertuie, huisbraak en diefstal, verdrinkings, OTM-swendelary en veiligheid.

“Die dag is afgesluit met ‘n radio-onderhoud op die Watchdog Show met kapt. Jacobus van den Heever, die bevelvoerder  van die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid. Hy het uitgebrei oor sake wat hulle hanteer en veiligheidsmaatreëls gedeel om die moontlikheid van gevalle van seksuele misdrywe te verminder.”