Blinde bejaardes vroue van erf verdryf

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Drie blinde en bejaarde vroue, een met Alzheimer’s, is glo van hulle huis na tydelike verblyf in Snake Park in Galeshewe verdryf.

So sê Disebo Nkosi, ’n raadslid, in ’n brief aan Bentley Vass, LUR van Coghsta.

“Die gemeenskap van Snake Park Temporary het my genader oor die probleme daar, nadat ’n vrou sedert 2000 in tydelike verblyf in die gebied geplaas is,” sê Nkosi.

“Twee blinde bejaarde vroue was uit hulle erf gevat. Hulle is in tydelik verblyf geplaas en daar is vir hulle gejok dat dit permanent gaan wees. Hulle het dieselfde gedoen met nog ’n bejaarde vrou wat blind is en aan Alzheimer’s ly.”

’n Man is glo ’n erf toegeken terwyl daar ’n persoon op die erf gewoon het. Nkosi sê die man wat eerste daar gebly het, het nie ’n identiteitsdokument gehad nie en kon nie bekostig om ’n saak te maak nie. Die man het saam met sy vrou en pasgebore baba daar gewoon.

Volgens Nkosi het dieselfde man wat die erf toegeken is, erwe aan mense verkoop wat in Snake Park gewoon het.

Nog ’n bejaarde man is glo genader en gevra om sy erf te verlaat nadat sy vrou afgesterf het. Hy het ook nie ’n identiteitsdokument gehad nie, verduidelik Nkosi.

“Inwoners van Snake Park Temporary is uit hulle huise, wat hulle geglo het gaan hulle permanente blyplek wees, verwyder, net om uit te vind hulle het geen heenkome waarna hulle kan terugkeer nie.”

Daar moet ingegryp word, maan Nkosi.