Esau Monztinger (29), ’n pastoor en evangelis van Upington, vertel aan FiND iT hoe hy dood moes wees, maar lewe en dat hy ’n verskil in ander se lewens wil maak.
Hy is die tweede oudste seun van Edward en Catherina Monztinger en het onlangs sy diploma in pastorale bediening, as die jongste in sy klas, verwerf. Hy is ook die stigter van EPM (Evangelistical Prophetic Movement) en uitvoerende raadslid van The outcry of the body of Christ-gemeenskapsorganisasie.
Lewe toe hy moes dood wees
Op 12 jaar oud is Monztinger gediagnoseer met ’n seldsame virus. In daardie stadium was daar nie enige kuur vir die toestand nie. Hy sou nie die virus oorleef nie. Monztinger vertel aan FiND iT sy pa het vir hom gebid en ’n belofte aan die Here gemaak. “Hy het vir die Here gesê: As jy hom aan my teruggee, sal ek hom aan jou opdra.”
Sy ouma het hom geïnspireer
“My ouma het my geïnspireer om in die bediening in te gaan. Sy het my altyd gemotiveer en bemoedig. As ek net dink aan alles waardeur die Here my gedra het en waardeur hy my gebring het, motiveer dit my verder.”
Hoe wil hy ander inspireer?
“As jy in die lig van God loop en sy werk doen, sal hy vir jou deure oopmaak. Sy salwing en guns sal altyd plek vir jou maak.”
Planne vir die toekoms
“Ek lewe daarvoor om ’n verskil in ander se lewens te maak. Ek sien myself as die pastoor van ’n kerk, besig om mense te red vir die Here. Ek wil ook ’n vaardigheidsentrum vir mense oopmaak. Ek sal ook graag eendag wil trou met die vrou wat God vir my uitgekies het.”




