WELKOM. – ’n Prokureur van hier sal na verwagting in Maart in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn op ’n aanklag van verkragting en seksuele aanranding.
Volgens Netwerk24 het hy na bewering sy twee stiefdogters, hulle niggie, huisvriende se dogter en ’n maatjie seksueel aangerand en van die kinders verkrag.
Staan tereg
“Die prokureur, in sy vroeë vyftigs, staan tereg op drie aanklagte van verkragting, sewe van seksuele aanranding, twee van seksuele gereedmaking, twee dat hy kinders aan pornografie blootgestel het, een van seksuele misbruik van kinders, een van die vervaardiging van kinderpornografie, een van onsedelike aanranding op ’n kind en een van aanranding op sy vrou,” word berig. “Luidens die 18 aanklagte in die klagstaat het hy in 2007 met van die kinders begin lol.”
Stiefdogter
Netwerk24 berig dit het glo op Virginia begin toe hy na bewering met die oudste stiefdogter in ’n swembad gevroetel het.
“Oor haar word hy van seksuele gereedmaking aangekla. Hy word ook daarvan aangekla dat hy haar verskeie kere verkrag het. Luidens die klagstaat word hy ook aangekla dat hy haar suster, wat twee jaar jonger is, by verskeie geleenthede verkrag het.”
Niggie
Hy word ook daarvan verdink dat hy hulle niggie, destyds 14 jaar oud, in 2008 seksueel molesteer het, word berig.



