Boys’ High-leerder se moord-ondersoek duur voort

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die afsterwe van Mxolisi Nelson Qwele, ’n gr. 8-leerder aan die Kimberley Boys’ High, het dié stad geruk.

Qwele, wat glo op 11 November 2019 deur ’n medeleerder tydens ’n spelery verwurg is, is Saterdagmiddag oorlede. ’n Gedenkdiens vir Qwele is vanoggend by die skool gehou.

Hy het na bewering tydens ’n spelery deur ’n medeleerder verwurg en het glo daarna gesê hy het ’n pyn in sy keel. Hy is in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal opgeneem en was sedertdien in ’n koma.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die onderwysdepartement, het aan FiND iT bevestig die dissiplinêre verhoor van die medeleerder is vir 3 Desember 2019 geskeduleer.

“Ons ondersoek duur voort en kan in hierdie stadium nie nog meer inligting verskaf nie, omdat dit ons ondersoek kan belemmer.”

Lulu Mxekezo, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê sy kan nog geen kommentaar lewer oor die voorval of oor die leerder se afsterwe nie. “Dit is konfidensiële inligting en kan nie in hierdie stadium geopenbaar word nie.”

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het vanmiddag bevestig die ondersoek duur steeds voort.

Ramatseba het ook vroeër bevestig die saak van poging tot moord is na ’n saak van moord verander.