Keisersneë was dekades lank ’n laaste uitweg vir moeders en babas in nood. As jy toegang tot hierdie soort prosedure gehad het, kon jy jouself onder die gelukkiges van die wêreld tel.
Volgens statistieke het geboorte deur middel van keisersnitte in 2019 amper verdubbel.
Volgens Bhekisisa.org word ongeveer 26% van babas wat in Suid-Afrikaanse openbare hospitale gebore word, deur middel van ‘n keisersnit gebore – dis ongeveer een uit elke vier babas. Dis bykans dubbel die aantal babas wat twee dekades tevore so die wêreld ingehelp is.
Denise Coetzee, woordvoerder van Gariep Mediclinic, het aan FiND iT gesê die meeste vroue verkies ’n keiser bo ’n normale bevalling. “ Ek sou raai dat dit ’n kombinasie van persoonlike keuse en mediese redes is.”
Lesers sê
FiND iT het lesers gevra wat hulle persoonlike keuse is oor keisersnit of normale geboorte.
Meeste lesers het normale geboorte bo keiser verkies, maar sommige lesers het nie ’n keuse gehad nie en moes noodkeisers ondergaan. Daar was ook lesers wat eerder ’n keisersnit verkies.
Amelia Hayman het op Facebook gesê: “Ek wou graag normaal kraam. Ek het my 1ste baba op 28 weke verloor as gevolg van hoë bloedruk en met my 2de swangerskap was alles reg en op 32 weke het bloeddruk het weer begin, so vir my en baba was keiser veiliger. ’n Keiser is nie altyd die slegste nie.”
Erdna Kruger het op Facebook gesê: “2 x keiser and loved it! Sekere dames verkies normaal en borsvoed, ander verkies keiser en bottelvoed. Albei werk en almal se kinders hardloop ewe gelukkig die skole vol, so maak dit dan saak aan die einde van die dag?”
Marionette Limburg het op Facebook gesê: “Ek het twee keisersnitte gehad weens mediese redes, maar ek kan glad nie daaroor kla nie. Ek sal dit weer doen as ek moet.”
Sandra Clarke het op Facebook gesê: “Was bevoorreg om met al 3 kinders normale geboortes te hê. Geen verdowing etc. nie. Was van 30 min. na geboortes op die been weer gewees. Maar dit maak niemand beter as wat mens ’n keiser kry. Dit wat beste is vir baba en Ma se gesondheid is wat op besluit moet word.”



