August 4, 2021

Gewapende roof by juwelierswinkel

Foto: Voorsien (SAPD)

JOHANNESBURG. – ’n Onbevestigde aantal vermeende rowers het glo gister ’n juwelierswinkel in die Bedford Centre hier probeer beroof.

Die sentrum het die voorval in ’n verklaring op hulle Twitter-blad bevestig. “Die gewapende roof het omstreeks 12:30 plaasgevind. Een van die vermeende boewe is geskiet en is op die toneel dood,” lees die verklaring.

Horlosies

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê voorlopige verslae dui daarop dat drie gewapende verdagtes ’n juwelierswinkel in die sentrum binnegegaan het en horlosies van die personeel geëis het. “Daar word beweer dat veiligheidsbeamptes op ’n oproep gereageer het. Die verdagtes het begin skiet toe die sekuriteit opdaag. Die sekuriteitsbeamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is op die toneel dood verklaar.”

Sekuriteitsbeampte

Peters sê een sekuriteitsbeampte is na die hospitaal gehaas nadat hy na bewering deur een van die verdagtes raakgeskiet is toe hulle van die toneel gevlug het.

Meer as drie verdagtes

“Ons glo daar kon meer as net drie verdagtes gewees het, omdat hulle in twee voertuie gevlug het. Daar is ook ’n AK47-geweer met twee gelaaide magasyne op die toneel gevind. Daar word beweer die verdagtes het horlosies gesteel, maar dit kon nog nie bevestig word nie,” sê Peters.

Beserings

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê hulle het drie mense, wat geringe beserings  opgedoen het, op die toneel ondersoek en na die hospitaal geneem vir verdere sorg.

Foto: Voorsien (Netcare 911)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *