KIMBERLEY. – Terwyl die babaklere nog op die draad hang, het ’n ma van twee vanoggend haar pasgebore baba aan die dood afgestaan toe sy by die huis haar bevalling kry en die ambulans eers sowat ses ure later opgedaag het.
Desiree Abrahams (32) het vanoggend kontraksies ervaar en die staats-ambulansdienste net na 08:00 gekontak. Margaret Paul, Abrahams se ma, het aan FiND iT gesê hulle het reeds ’n paar keer die ambulans gekontak, maar sy het by die huis, op die bed, gekraam omdat die ambulans eers ure ná sy gekraam het, opgedaag het.
Hulp
Paul het vir Jamie Gatyene, haar buurvrou, geroep om te kom help.
“Desiree het heeltyd gesê sy het baie pyn. Ek het ook ’n paar keer die ambulansdienste gebel, maar elke keer het hulle gesê hulle sal ’n ambulans stuur. Omstreeks 11:00 toe ek hulle weer bel, het hulle vir my gesê Desiree moet op haar linkersy lê en nie heeltyd op en af loop nie, omdat dit kan veroorsaak dat haar kontraksies al hoe nader aan mekaar kom,” vertel Gatyene.
Geen asemhaling
“Ons is onseker of dit ’n stilgeboorte was en of die baba steeds geleef het ten tyde van die bevalling. Toe ek by haar kom en sien die babatjie haal nie asem nie, het ek vir Desiree gesê haar baba leef nie meer nie, maar sy wou my nie glo nie en het gesê ek jok.”
Abrahams het glo vir Gatyene gesê sy het nog die babatjie voel beweeg binne-in haar, voor sy gekraam het.
Hospitaal
“Die ambulans het eers vanmiddag, omstreeks 13:30, opgedaag. Die paramedici het Desiree op ’n drip gesit en het haar en haar oorlede babatjie na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal geneem.”
Skandelik
Ockie Fourie, DA-raadslid van hierdie area, sê dit is skandelik en om van siek te word. “Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het ’n paar maande gelede ’n hele paar nuwe ambulanse gekoop, maar dit word nie reg benut nie.”
Woordvoerder
FiND iT het navraag aan die woordvoerder van hierdie hospitaal gerig, maar het geen kommentaar teen tyd van publikasie ontvang nie.



