HARTSWATER. – Petrus Meyer (45) wat Woensdagmiddag deur ’n boomslang gepik is en in Gariep Mediclinic in Kimberley opgeneem is, is gistermiddag ontslaan.
Meyer het vanoggend aan FiND iT die gebeure van hierdie vreesaanjaende voorval vertel.
Gegaffel
“Ek was by die werkshuise, op ’n ander plot, besig om die bome te snoei en bietjie skoon te maak en terwyl ek besig was om die bome se takke te saag, het die slang my gegaffel. Ek was nie seker watter tipe slang dit was nie en het hom vinnig opgetel om ’n foto vir die dokter te neem.”
Teengif
Meyer sê terwyl hy by die dokter was, het hulle die foto van die slang aan die kenners gestuur en gehoor dit is ’n boomslang. “Ek het toe Kimberley toe gekom en het dieselfde aand, nadat die gif in my liggaam ‘gewys’ het, teengif ontvang.”
Hy sê hy is tans by die huis en voel goed. “Mediclinic het my regtig baie mooi gehelp en my deurgedra deur hierdie hele voorval. Ek is baie dankbaar.”
Diere
Hy sê alhoewel hy deur die slang gepik is, hy steeds glo geen dier moet doodgemaak word nie. “Hulle het nie gevra om daar te wees nie, so hulle verdien nie om doodgemaak te word nie.”



