Seun steeds in intensief ná spelery by skool

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Noord-Kaapse onderwysdepartement is baie bekommerd oor die welstand van ’n gr. 8-leerder van Kimberley Boys’ High ná ’n voorval op 11 November 2019 waar hy glo deur ’n medeleerder verwurg is.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement, sê hierdie twee gr. 8-leerders het blykbaar gespeel toe die een leerder ernstig beseer is en in die hospitaal opgeneem is.

Omstandighede

“Die presiese omstandighede van die voorval word nog deur die skool ondersoek, maar die skoolhoof het ‘n ontmoeting met albei ouers gehad. Hulle het albei vrede met die voorval.”

Van der Merwe sê die skoolhoof kyk daagliks na die welstand van die leerder, omdat hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.

“Daar sal egter dissiplinêre stappe teen die medeleerder geneem word.”

Hofdatum

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die medeleerder is vandag in hegtenis geneem. “’n Hofdatum moet egter nog bevestig word. Die ondersoek duur voort.”

Lulu Mxekezo, woordvoerder vir die departement van gesondheid, sê sy is onseker oor hierdie voorval en kon geen kommentaar teen die tyd van publikasie lewer nie.

Lees die vorige berig hier.