KIMBERLEY. – ’n Leerling (15) aan die Kimberley Boys’ High, is verlede Dinsdag tydens ’n spelery na skool beseer en is steeds in die intensiewe sorgeenheid van die Kimberley-hospitaal. Hy is glo deur ’n 16-jarige gewurg en is steeds bewusteloos.
Bewusteloos
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van poging tot moord is op 11 November geopen. Die verdagte sal môre (Donderdag) in die Kimberley-landdroshof verskyn. “Volgens die verdagte het hulle gespeel en was dit nie opsetlik nie. Ons kon dit nog nie met die ander seun bevestig nie, want hy is sedert die voorval bewusteloos.”
Pyn
Daar word beweer die seun het na die voorval gesê hy het pyn in sy keel. Hy is in die hospitaal opgeneem en is op die oomblik in ’n koma.
Die voorval het glo na skool op die skoolgrond gebeur. Albei leerlinge is in gr. 8.
Speel
Mnr. Wilfred Sell, skoolhoof van Boys’ High, sê hy is bekommerd oor die manier hoe die seuns speel. “Ek het al vele male daaroor gepraat met die seuns. Ek dink dit is iets waaraan ons moet aandag gee. Soms speel hulle te rof.” Hy het sy kommer oor die seun se toestand uitgespreek.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, het die voorval bevestig en gesê die departement sal Donderdagoggend ’n persverklaring uitreik.



