Landsdiens leerder begin boomplant-projek

Deel hierdie storie / Share this story

Chane Krige (14), ’n leerling van Laerskool Eureka, het ’n boomplant-projek by haar skool begin. Sy doen dit as deel van Junior Landsdiens om as Springbok te kwalifiseer.

Noord-kaap en Eureka Landsdiens wil ’n volhoubare tradisie begin en die leerders moes met idees vorendag kom. Chane het besluit op boomplant, want dit is nie net voordelig vir die natuur en medemens nie, maar ook iets wat maklik en bekostigbaar is om jaarliks te doen.

Bome vir betekenis

Bome of plante kan ten minste een keer ’n jaar geplant word deur die betrokke jaar se landsdiens-leerlinge. Bome met ’n naamplaatjie kan ook as huldeblyk gebruik word vir uitsonderlike prestasie in akademie of sport. Ook om afskeid te neem van ’n personeellid of iemand wat baie vir Eureka beteken het.

Chane het besluit op die spekboom :

  • Dit is ’n trotse Suid-Afrikaanse plant;
  • Dit is een van die plante wat die meeste lugsuiwering doen;
  • Dit het baie min water nodig om te oorleef;
  • Dit groei maklik in enige weerstoestande;
  • Die spekboom kan gesnoei word om soos ’n boom (tot 2m), heining, bos of net grondbedekking te lyk;
  • Die blare is eetbaar.

Projek skop Vrydag af

Die projek sal na verwagting op Vrydag 22 November afskop, wanneer Chane haar eerste boom by die skool sal plant.

Mense kan help deur meer bome te plant as wat afgekap of verwyder word. Eureka en Noord-Kaap se landsdiens sal borgskap van bome en naamplaatjies opreg waardeer sodat hul die tradisie volhoubaar kan maak.