FB-administrateur vra Ettienne Scheepers om verskoning

Deel hierdie storie / Share this story

HEROLDSBAAI – Tess Matthews, ’n administrateur van ’n Facebook-groep, het in warm water beland nadat lede wyle Heidi Scheepers se man vir haar en sy twee kinders se dood beskuldig het.

Volgens AlgoaFM het lede van die Facebook-groep “Murder she wrote investigations and discussions” die ongeluk waarin Scheepers se vrou en twee kinders oorlede is, bespreek. 

Van die besprekings het Scheepers daarvan beskuldig dat hy sy vrou vermoor het, haar moord beplan het en ‘n buite-egtelike verhouding gehad het wat sy vrou tot selfdood gedryf het.

Heidi en haar twee kinders is in Oktober oorlede toe hul VW Caravelle gedeeltelik onder die water beland het nadat dit 100 meter geval het van ’n krans by Voëlklip op Haroldsbaai. Die liggaam van Heidi en haar seun Hugo is gevind. Die liggaam van hulle sesjarige dogter is nooit gevind nie.

Luidens AlgoaFM was die groep deur drie administrateurs bestuur, maar twee ander administrateurs, Chantal Strydom Dobson en Diane van Rensburg, is intussen van die groep verwyder.

Matthews het in haar eie woorde op die groep vir Scheepers om verskoning gevra.

Scheepers het die verskoning aanvaar, maar volgens regskenners kan regstappe teen al drie administrateurs geneem word.