Formule vir bioafbreekbare plastiese strooitjies ontwerp

SPANJE – ’n Groep Spaanse wetenskaplikes het ’n nuwe 100% biologies afbreekbare plastiese formule ontdek wat geskik is vir strooitjies.

Die groep van Polymers and Advanced Materials aan die Universitat Jaume I, in samewerking met die Laboratorium vir Nuwe Materiale en Nanotegnologie van die Instituut vir Agrochemie en Voedseltegnologie van die Spaanse sentrum vir gevorderde wetenskaplike navorsing (IATA-CSIC), het saam met die onderneming Ocenic Resins, S.L. die nuwe plastiese formule polyhydroxyalkanoate (PHA) ontwikkel. 

Volgens Phys.org, ’n aanlyn-wetenskaplike tydskif, word PHA natuurlik deur sommige bakterieë gevorm wanneer dit aan beheerde voedingsomstandighede onderwerp word. 

Daarom is dit hernubaar en ’n natuurlike materiaal. Aangesien hierdie plastiek natuurlik deur lewende organismes gevorm word (soos sellulose in plante), breek dit spontaan af in die natuur, waar dit as voedsel dien vir dieselfde bakterieë wat die plastiek produseer.

Luis Cabedo Mas, navorser wat verantwoordelik is vir die projek, sê, benewens omgewingsvoordele, is die eienskappe van hierdie materiale uitstekend vir die vervaardiging van eenmalige produkte en voedselverpakking.

Strooitjies wat uit hierdie materiaal vervaardig word, is selfs glo perfek vir warm vloeistowwe en beïnvloed nie die smaak daarvan nie. Die kommersiële gebruik daarvan vir die vervaardiging van produkte moet egter nog getoets word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *