’n Geblokte drein op die hoek van Starling Begoniastraat, Roodepan, veroorsaak al vir maande ongerief vir inwoners. Die situasie het egter nou so vererger dat inwoners in Chrysanthemumstraat, Roodepan, nie eers meer hulle huise kan verlaat nie. Die rioolwater dam op by die ingang van erwe.
Stephanie Matthews, ’n inwoner van Chrysanthemumstraat, sê die probleem kom al ongeveer vyf jaar aan.
“Sol Plaatje-munisipaliteit se reaksie was en is elke keer dat die pompe gesteel is of dat hulle sal uitkom, maar hulle kom nie. Ons het hulle gesê ons verstaan die pompe is gesteel, maar hulle kan ten minste vir ons die straatdreine kom oop en skoon blaas sodat die rioolwater ten minste daar kan inloop.”
Matthews sê ook vir FiND iT hulle kan nie meer by hulle erf uitkom nie en hulle moes ’n gat in die ogiesdraad om hulle erf sny om die riool te vermy wanneer hulle werk toe gaan.
“Met die warm klimaat kan ons nie eers buite sit of vensters oopmaak nie, want die reuk is ondraaglik.”
FiND iT het navrae by Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen. Die span is tans daar om die probleem uit te sorteer.






