Aanklaer vas oor kinderpornografie en seksuele aanranding

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP. – ’n Beheeraanklaer hier is gister op 157 aanklagte van kinderpornografie en op een aanklag van seksuele aanranding in die Parow-streekhof skuldig bevind.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die provinsiale eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) het gedurende Oktober 2016 inligting ontvang oor ’n persoon by die Atlantis-landdroshof wat kinderpornografie besit.

“Dit het tydens die ondersoek aan die lig gekom dat dit die beheeraanklaer by die Altlantis-landdroshof is wat as Dawid Lotz (44) geïdentifiseer is.

Lasbriewe

“Aansoeke om die nodige lasbriewe te bekom, is gekry, waarna sy kantoor in die landdroshof plus sy woning op Malmesbury deursoek is.”

Lotz is op 31 Desember 2016 in hegtenis geneem en het op aanklag van die besit van kinderpornografie en seksuele aanranding in die Parow-streekhof verskyn.

Skuldigbevinding

Van Wyk sê hulle is tevrede met die uitslag van die skuldigbevinding.

“Lotz is tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. ’n Bevel word ook gemaak dat sy naam in die register van seksuele misdrywe aangeteken word en dat hy onbevoeg bevind word om met kinders te werk en ook ongeskik is om ’n vuurwapen te besit.”