KIMBERLEY. – Die polisie op Alexanderbaai ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat daar glo op vier vermeende onwettige mynwerkers geskiet is.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê daar word beweer dat Vetus Schola Sekuriteit vier manlike slagoffers Vrydagaand, omstreeks 20:00, geskiet het. “Die slagoffers was na bewering op pad om onwettige mynbou by die Bloemdrift-myn, op Alexanderbaai, uit te voer.
“Drie van die vier slagoffers is in die plaaslike mediese fasiliteit behandel en is later Vrydag ontslaan terwyl die vierde slagoffer in ’n hospitaal in Kimberley opgeneem is.”
Ramatseba se geen arrestasies is nog gedoen nie en drie vuurwapens van Vetus Schola Sekuriteit is vir ondersoekdoeleindes gekonfiskeer.
“Lt.-generaal Risimati Peter Shivuri, provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Noord-Kaap, is in Port Nolloth om met alle rolspelers te vergader.”



