Het jy al ooit gewonder wie van mans en vrouens die meeste slaap nodig het? Paartjies sal soms baklei oor wie die meeste slaap.
Volgens truth-code.com het studies bewys vrouens het meer slaap as mans nodig. Die rede daarvoor is omdat vroue weens ’n gebrek aan genoeg slaap groter gesondheidskwessies as mans kan ontwikkel.
Professor Jim Horne, direkteur van die Slaapnavorsingsentrum aan die Loughborough-universiteit en skrywer van Sleepfaring: A Journey Through The Science of Sleep, sê: “Ons het gevind dat swak slaap sterk by vroue verband hou met hoë vlakke van sielkundige nood en groter gevoelens van vyandigheid, depressie en woede. In teenstelling is hierdie gevoelens nie geassosieer met dieselfde mate van slaapstoornis by mans nie.”
Hoekom meer slaap?
Die rede vir die groter slaapbehoefte by vroue is omdat die brein van ’n vrou anders bedraad is as by mans en ingewikkelder is. Die gemiddelde vrou het 20 minute meer slaap as haar manlike eweknie nodig, maar dit verskil – sommige vroue het minder of meer as dit nodig.



