Angus Buchan, ’n Christelike skrywer en evangelis, het gister met die Christelike leiersforum, predikante en leiers van verskillende kerke in Suid-Afrika ontmoet om klarigheid te kry oor ’n misverstand wat die Christelike gemeenskap van Suid-Afrika geskok het.
Stemboodskap
Volgens gerugte is ’n stemboodskap laasweek deur EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, versprei waarop Buchan sê net twee nasies, die Afrikaners en die Jode, is met God in verbond.
Buchan het sedert die voorval om verskoning gevra en gesê die stemboodskap is misverstaan. Buchan sê sy bedoeling was om diegene wat tans ernstig geraak word deur die droogte te verseker dat God hulle nooit sal verlaat nie en hulle te herinner aan Hebreërs 13:5 waar God self sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Buchan het op sy Facebook-bladsy gesê: Ek is baie jammer oor wat plaasgevind het, ek vra om verskoning, ek het berou en verloën die idee van enige spesiale nasie. Ek vra daarom u vergifnis.
Ek wat self ’n boer is en een van die ergste droogtes in die geskiedenis van Afrika suid van die Sahara ervaar, sien die ongekende skade wat mense liggaamlik en geestelik affekteer. Dit het my gebreek en my enigste bedoeling was om hulle aan te moedig en te probeer om hulle lyding te verlig deur hulle daaraan te herinner dat God hulle nooit sal verlaat nie.
Versoening
Buchan se ontmoeting met die Christelike leiersforum het na bewering twee ure geduur. Gedurende die tyd het Buchan sy verskoning uitgespreek. Ananias Ralekgolela, Christelike verteenwoordiger van die leiersforum, het gesê hulle aanvaar Buchan se verskoning en het hom vergewe vir sy fout.
Die Christelike leiersforum het aan FiND iT bevestig die misverstand is opgelos en albei partye is toegewyd aan die bevordering van die koninkryk van God in Suid-Afrika.



