Drie in hegtenis vóór misdaad gepleeg kon word

Deel hierdie storie / Share this story

KURUMAN. – Drie verdagtes is gisteraand deur die Valke in hegtenis geneem omdat hulle na bewering ’n gewapende roof wou pleeg.

Hierdie verdagtes is tussen 24 en 33 jaar oud.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke, sê hulle het inligting opgevolg rakende ’n moontlike gewapende roof by Agrimark in Danielskuil.

“Die verdagtes is omstreeks middernag in hegtenis geneem vóór hulle ’n misdaad kon pleeg. Items waarop beslag gelê is, sluit ’n 9 mm-vuurwapen, drie selfone en ’n voertuig in.”

Mnisi sê die verdagtes is by die Danielskuil-polisiekantoor aangehou en sal na verwagting môre in die Kuruman-landdroshof verskyn.