Spoedgrens kan met 20km/h verlaag word

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die departement van vervoer en die padverkeersbestuurskorporasie is tans besig om die spoedbeperkings op Suid-Afrikaanse paaie te hersien.

Ayanda Allie-Paine, woordvoerder van dié departement, het aan die Weekend Argus gesê ’n voorstel is gemaak om die die topsnelheid op paaie regdeur die  land met 20 km/h te verminder.

Dit sal effektief die snelheidsgrens op die snelweë van 120 km/h tot 100 km/h laat daal, terwyl die topsnelheid op hoofweë van 100 km/h tot 80 km/h sal verminder word.

Die snelheid in woongebiede sal vanaf 60 km/h tot 40 km/h verminder word, indien die voorstel goedgekeur word.

“Ons strategie vir verkeersveiligheid het al hierdie faktore in ag geneem. Die wetgewing word hersien om in te gryp by die uitdaging waarmee Suid-Afrika tans te doen het,” het Allie-Paine gesê.

“Onder andere kyk ons na internasionale beste praktyke vir spoedvermindering in lande soos Swede en Australië.”

“As gevolg van die unieke situasie in Suid-Afrika kan dit nie net sonder ‘n impakstudie geïmplementeer word nie,” het sy gesê.