Meisie na bewering tydens skoolure verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die polisie ondersoek ’n saak van verkragting nadat ’n 15-jarige meisie na bewering in September deur twee seuns tydens skoolure verkrag is. Die voorval het glo tydens skoolure in die koshuis gebeur. Die seuns is glo dieselfde ouderdom as die meisie en in dieselfde klas.

Volgens die familie het die voorval na bewering op 6 September gebeur. Die meisie is onmiddellik ná die voorval na die hospitaal geneem en is ook deur ’n sielkundige gesien. Die seuns het haar na bewering vasgedruk en verkrag.

Geen vordering

Eers het die familie gesukkel om ’n saaknommer te kry en nou sukkel hulle dat die saak moet vorentoe beweeg.

Die pa van die meisie sê die familie is gefrustreerd omdat daar geen vordering in die saak is nie en omdat die seuns nog nie verhoor of in hegtenis geneem is nie.

Bang om skool toe te gaan

Die oom van die meisie, wat ook met FiND iT gepraat het, sê die meisie is te bang om skool toe te gaan, omdat sy enige oomblik weer in een van die seuns kan vasloop. Sy word tans by die huis gehou.

Polisie ondersoek die saak

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, sê: “Die polisie se gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid in Kimberley ondersoek die voorval wat na bewering gedurende September 2019 by die genoemde skool plaasgevind het. Al die partye wat na bewering betrokke was, is minderjariges en het ’n geestelike gestremdheid. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort.”

Departement van onderwys ook betrokke

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die departement van onderwys ondersoek die beweringe van seksuele wangedrag onder medeleerders by ’n skool in die stad. “Die departement wag op die beoordelingsverslae van die maatskaplike werkers, voordat ’n formele tugverhoor kan begin. As tussentydse maatreël het die skool die leerders geskei en hulle in verskillende klasse geplaas, sowel as die koshuis afgesluit, sodat leerders nie tydens pouses toegang tot die gebou kan kry nie. Ons is ook daarvan bewus dat die saak deur die SAPD ondersoek word.”