Droogtehulp noodsaaklik vir boere in die Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Willie Aucamp, DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, sê die boeregemeenskap val uitmekaar as gevolg van die voortdurende droogte in Suid-Afrika. 

Hy sê boere ondervind intense droogtetoestande vir die sesde agtereenvolgende jaar, met weiding wat plat getrap is.

Verlies van meer as R10 biljoen vir landbou

Aucamp sê normaalweg is daar miskien ’n jaar van droogte, maar na ’n jaar se reën herstel die grond weer. In dié stadium sit ons in ’n situasie waar dit etlike jare gaan neem om te herstel.

Meer as 62 000 werksgeleenthede is in gedrang en ‘n miljoen beeste kan aan die droogte verloor word. Dit kan ’n verlies van meer as R10 biljoen beteken, sê Aucamp.

Hy sê: “Die ou by die slagpale kan sy werk verloor. Die ou by die slaghuis van ‘n kettingwinkel kan ook sy werk as gevolg van die droogte verloor. Ons pleit by die regering om in te gryp om ons in die Noord-Kaap te kom help.”

Droogte het negatiewe impak op moraal van boere

Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, sê boere moenie net finansieel bygestaan word nie. Hy sê die boere het ook emosionele, sielkundige en morele ondersteuning nodig. Onlangs weer het ’n Vrystaatse boer as gevolg van die droogtestoestande selfdood gepleeg.

Hy sê: “Die droogte het ’n negatiewe impak op die moraal van die boere, veral wanneer hulle sien hoe vee op plase vrek. Hier is nou ’n nood. Dit is ’n ramp wat hier in die Noord-Kaap gebeur.”

“Ons moet ons boere in die provinsie onmiddellik help,” sê Meyer.