KIMBERLEY – Elmarie Deetlefs, ’n inwoner van Belgravia, het ’n vermeende skelm ‘n les geleer nadat hy goedsmoeds by haar huis ingestap het.
Elmarie vertel aan FiND iT sy het Sondagoggend haar motorhek oop vergeet terwyl sy in haar huis besig was. ’n Man, wat hulle eers later op ‘n sekuriteitskamera drie keer verby haar huis sien stap het, het rustig by haar motorhek ingestap.
Die man het eers na haar voertuig gekyk, voordat hy by haar huis ingestap het. Op die kamera het sy later gesien hoe hy in haar uitstalkas krap, voordat hy na haar kamer beweeg.
Elmarie, wat in ’n ander vertrek besig was, het uitgekom om die motorhek toe te maak toe sy die honde hoor blaf. “Ek het gewonder hoekom die honde so te kere gaan.”
Met gholfstok geslaan
“Toe ek in die kamer kom, het hy my ingewag en my met ’n gholfstok teen my slaap geslaan. Ek het erg geskree en het die gholfstok by hom gegryp en hom daarmee teruggeslaan.”
“Op die kamera sien mens net hoe ek hom met die gholfstok uit die huis uit jaag.”
Hy was vasgekeer in die erf en het oor die muur geklim. In die proses het hy die elektriese heining gebreek.
Polisie het vinnig reageer
“Die polisie het baie vinnig gereageer. Hulle was binne 15 minute by my huis,” vertel Elmarie.
Geskok
Elmarie sê alhoewel sy erg kopseer gehad het, sy ongedeerd is. “Ek was net erg geskok. Mens dink nie so iets sal met jou gebeur nie.”



