KIMBERLEY – Evelyn Maruping, direkteur van Maruping Media Productions, sê die bekendstelling van Ping TV oor die naweek in Kimberley was ’n reusesukses.
Maruping sê die bekendstelling was bo verwagting. Al 300 uitgenooide gaste het dit bygewoon, insluitend verteenwoordigers van verskeie media-organisasies, entrepreneurs en bekendes regoor Suid-Afrika. Onder andere was Mej. Mamemlodi Sundowns, Mej. Heritage, Mej. Kimberley en beide Mej. en Mnr. Noord-Kaap daar.
Verskeie groepe en kunstenaars het die aand opgetree. Ping TV se temalied, wat die openingsproduksie by die bekendstelling was, is deur IM Records vrygestel en is deur dr. Martin Fawyers en Rushers Films vervaardig. Dit was hul verrassing en geskenk aan Ping TV.
Hulle het ook vir die toeskouers gewys hoe Ping TV se webtuiste werk en die voordele en funksies daarvan uitgelê, verduidelik Maruping.
Sy sê mense kan hulle eie video’s op Ping TV laai en dit verkoop. Besighede kan ook self hulle advertensies daar oplaai.
“Ons het ’n uitstekende aand gehad,” sluit Maruping af.
Wat is Ping TV?
Ping TV is ‘n aanlyn videodiens soos YouTube wat met trots Noord-Kaapse inhoud aan kykers bied.
Waarna kan jy op Ping TV kyk?
Jy kan verwag om inhoud in Afrikaans en Engels te sien wat verband hou met sake, mode, reis, vermaak, opvoeding en plaaslike bykeenkomste in die Noord-Kaap. Ping TV se missie is om goeie vertonings aan te bied wat ‘n vars perspektief en insig aan kykers kan gee.
Wat kos Ping TV?
Enigeen kan Ping TV gratis kyk. Lidmaatskap is vanaf R29 per maand beskikbaar vir dié wat verkies om sonder advertensies te kyk of wat belangstel om hulle flieks of video’s daarop te verkoop.





















