Twee beseer ná vliegtuig val

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – ’n Vlieginstrukteur en leerling is vanoggend hospitaal toe geneem, nadat die enkelenjinvliegtuig waarin hulle gevlieg het, geval het.

Dié voorval het sowat 06:55 vanoggend in Joubertstraat, naby die Springs-vliegveld, plaasgevind.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, het aan FiND iT gesê hulle het sowat 06:58 vanoggend die oproep ontvang en is na die toneel ontbied.

“Twee mans, wat vermoedelik op ’n oefenvlug was, was ten tyde van die ongeluk in die vliegtuig. Toe paramedici op die toneel kom, het hulle afgekom op die ligte vliegtuig wat groot skade gehad het.

“Die mans het matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle hospitaal toe geneem is vir verdere behandeling.”

Herbst sê die omstandighede wat tot die voorval gelei het, word deur die betrokke owerhede ondersoek.”

Foto: Netcare911