HAKSKEENPAN – Andy Green, die bestuurder van die Bloodhound LSR, moes Saterdag se toetsren op Hakskeenpan in die Noord-Kaap kortknip nadat ’n foutiewe sensor ’n oorverhitte enjin aangewys het.
Volgens Jonathan Amos, ’n verslaggewer van die BBC, het Green probeer om ’n top spoed van 885 km/h te bereik, maar het die toetsren op 774 km/h gestop toe die alarm afgegaan.
Vals alarm
Die ingenieurs het die fout by die “firewire” opgespoor. Die sensor bestaan uit twee metaal drade omhul in plastiek. Dit omspan die enjinkajuit en dui die temperatuur daarvan aan. Gedeeltes van die plastiek het gesmelt.
By nadere ondersoek van ’n sekondêre brandaanwyser het ingenieurs gevind daar was geen brand in die kajuit nie.
Hoëspoed-toetsren
Die Bloodhound-span het op 5 November hulle vinnigste top spoed nog van 790 km/h behaal.
Amos sê elke keer wat Green die straalmotor vir ’n toetsren op die pan neem druk hy dit ’n bietjie harder. Die data daarvan word opgeneem sodat hulle veilig in 2020 ’n top spoed van meer as 1227 km/h kan probeer bereik, wanneer hulle ’n vuurpyl op die straalmotor gaan monteer.
Die straalmotor met sy aluminium-wiele sal waarskynlik vroeg in die week weer op die pan rol.








