KIMBERLEY. – Gemeenskapslede het ‘n vermeende moordenaar self hier gevang en ure lank in die gemeenskapsaal aangehou, voor die polisie hom in hegtenis geneem het.
Die voorval het in Seoding plaasgevind.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die verdagte (21) het na bewering in die vroeë oggendure die slagoffer (59) se huis binnegedring en haar dood gesteek.
“Die slagoffer se bure het geluide en ’n geskarrel by die slagoffer se huis gehoor en het ondersoek ingestel, toe die verdagte van die toneel vlug.”
Ramatseba se lede van die gemeenskap het hom vasgekeer en in die Seoding-gemeenskapsaal gehou, waar hulle hom toe aan die polisie oorgegee het vir verdere ondersoek.
“Die motief agter die moord is nog nie bekend nie, maar die ondersoek duur voort.”
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Mothibistad-landdroshof, op aanklag van moord, verskyn.



