KIMBERLEY – Shaun Karelse (27), Kamogelo Mochumi (33) en Boitumelo Matlhola (22) is vir die ontvoering, roof en moord op Gershwin Swartz (24) in die Kimberley-hooggeregshof skuldig bevind.
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê Gershwin se ouers het op 13 Julie 2016 ’n dossier vir ’n vermiste persoon by ’n polisiekantoor geopen.
Speur-a.o. Desmond Markgraaff, van die Kimberley-polisie se speurtak, het die saak ondersoek en Karelse is op 15 Julie 2016 vir die besit van die slagoffer se eiendom in hegtenis geneem. Die verdagte was ook daarvan verdink dat hy Gershwin se voertuig weggesteek het.
Gershwin se liggaam is die volgende dag op 16 Julie by ’n stortingsterrein naby ’n skietbaan op die R31 gevind. Dit was nadat Karelse die liggaam aan die polisie uitgewys het, sê Jansen.
Sy sê Mochumi en Matlhola is in hegtenis geneem nadat Karelse tydens sy ondervraging hulle name verstrek het.
Die drie verdagtes is op 4 November in die hooggeregshof gevonnis. Karelse is lewenslank vir die moord opgelê. Hy is ook 12 jaar vir roof en agt jaar vir ontvoering gevonnis.
Mochumi is lewenslank vir die moord, sewe jaar vir roof en agt jaar vir ontvoering opgelê.
Matlhola het 23 jaar tronkstraf vir moord ontvang en is 12 jaar vir roof en agt jaar vir ontvoering gevonnis.
Kol. Sam Nkosi, waarnemende bevelvoerder, en kol. Rassie Victor, speurtak bevelvoerder, het Markgraaff vir sy uitmuntende diens bedank.
Victor sê die sukses is te danke aan ’n goeie verhouding tussen die polisie, nasionale vervolginggesag en die departement van justisie.


