Ope brief van ’n bekommerde mamma.
“Wie van jou vriende weet of jy Hoofseun of Hoofmeisie was? Dit is glad nie meer van belang as jy ’n volwassene is nie. Maar vir Laerskool leerders is dit die wêreld.
Hoop en teleurstelling
Eers hoop en bid jy dat jy op die kortlys kan kom, daarna hoop jy dat jy tog net een van die uitverkorenes kan wees. Wat ‘n teleurstelling as jy nie is nie.
Is al hierdie trauma, hartseer en teleurstelling werklik nodig? Alles mens-gemaakte idees wat kinders met “emotional scars” los? Of is als die moeite werd vir die elite groepe wat dit wel maak?
Nie goed genoeg nie
My kind het weke voor die tyd gesê hy hoop hy gaan prefek wees en baie daaroor gebid. Dankbaar was ons toe sy naam op die kortlys verskyn. Nou is dit weer die spanning om te hoor of hy wel prefek is. Groot is die teleurstelling toe hy nie prefek is nie.
Ek weet mens moet leer hoe om teleurstellings te verwerk, maar hoe verduidelik jy vir jou kind met trane in sy oë dat die Here nie sy gebed verhoor het nie? Hoe verduidelik jy dat al sy vriende verkies is tot prefekte maar hy die uitgeslote een is? Hoekom was sy boetie as leerlingraad verkies en hy nie?
Hy voel hy is die een wat net nooit goed genoeg is nie! Nooit goed genoeg om deel te wees van die 1ste span rugby of 1 ste span krieket nie. Net goed genoeg vir reserwe van die 1ste span as hulle iemand kort. Nie goed genoeg vir prefek, nie maar wel goed genoeg, as die Juffrou iemand betroubaar soek.
Baie geluk aan die 10% wat wel tot prefek verkies is. Julle kan trots wees op julself.
Is dit die moeite werd?
Nou vra ek myself af of die 90% wat nie deel vorm van die leerlingraad nie en wat altyd alles net-net mis en nie mee in homself glo nie, is dit die moeite werd? Is dit die moeite werd dat 90% van ons kinders se seIfbeeld daaronder moet lei sodat 10% se selfbeeld “geboost” kan word? Gewoonlik is dit maar die sportsterre en “cool” kinders wat gekies word tot prefek. Het hullle selfbeeld werklik nog ’n “boost” nodig? Is dit die laaste strooi wat die kameel se rug laat breek? Is dit hoekom kinders nie meer die druk van vandag kan hanteer nie? Omdat hulle voel hulle is net nooit goed genoeg nie?”



