‘n Beweerde polisielid het Vrydagaand op Ritchie beheer oor sy privaat voertuig verloor. Die voertuig het deur die heining van ’n huis gebreek en teen ’n boom tot stilstand gekom. Na bewering was die man onder die invloed van alkohol en het sy medekollegas geweier om enige vorm van toetse te doen om te bevestig dat hy onder die invloed was. Daar was klaarblyklik ook drankbottels uit die motor verwyder.
Die eienaar van die huis het baie skade gely en beweer sy word gedreig omdat sy op ’n saaknommer aandring. Die eienaar het aan FiND iT bevestig dat sy wel gister ’n saaknommer ontvang het.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polise sê: “Die Modderrivier-polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n Renault-voertuig deur die heining van ’n huis op Richie gery het. Beide die bestuurder en sy passasier is na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling. Die ondersoek duur voort.”




