Hierdie besonderse skilderye, geverf uit koffie, is enig in hulle soort. Wat hierdie skilderye so uniek maak, is die koffie waarmee dit geverf is, is in die huis van die kunstenaar vervaardig en gerooster.
Reshelle Smith (26) skilder al vir twee jaar met waterverf, maar het Julie verlede jaar begin om met koffie te verf. Sy het vroeër hierdie maand vir die eerste keer aan ’n kunsuitstalling deelgeneem en van haar kunswerke is verkoop.
Reshelle sê: “Ek het gesoek na ’n medium wat anders was as die gewone waterverf, my niche, en ook iets wat my vaardighede sal verbeter en stimuleer. Ek glo sterk dat mens ’n goeie rentmeester moet wees oor jou drome, na uitnemendheid moet streef en dat kreatiwiteit uit beperkinge uit kreatiwiteit gebore word. Ek het met 100% Espresso-koffie, rooibostee en selfs beet- en wortelsap geëksperimenteer, maar aangesien ek en my man ’n groot passie het vir koffie, het dit natuurlik gewen!”
“Ek het die uitstalling gesien as goeie blootstelling, ‘n uitdaging en geleentheid waar ek my kuns en dit wat my Skepper met my deel, met ander kon deel. My gemoed was wel tydens die voorbereiding in ’n paradoks: vol vreugde en opgewonde en dan by tye baie skepties en negatief oor my werk.”
“Die kunsuitstalling het my vriendelik forseer om selfs meer afhanklik van die Here te wees en daarom het ek in karakter en kunsvaardigheid gegroei.”
“Die uitstalling was nie net vir my ’n reusesukses nie, maar vir al 11 ander kunstenaars ook. Meeste van my kunswerke het verkoop en ek het selfs ’n paar bestellings.”









