INTERNASIONAAL – Instagram het onderneem om beelde, tekeninge en selfs tekenprente te verwyder wat metodes van selfbeskadiging of selfdood toon.
Adam Mosseri, hoof van Instagram, het dit gister in ’n persverklaring aangekondig.
Die verandering is die jongste reaksie op die openbare uitroep oor die selfdood van Molly Russell, ’n Britse tiener.
Die 14-jarige dogter het in 2017 selfdood gepleeg nadat sy grafiese inhoud op die platform gesien het.
Molly se pa het aan die BBC gesê hy verwelkom die verandering, maar het gemaan die platform moet vinniger optree.
Mosseri sê: “Elke keer as ons hoor iemand het hulself beseer of is beïnvloed deur wat hulle op ons platforms gesien het, word ons aan die stryd wat baie jongmense aan- en aflyn ervaar herinner.”
“Ons sal aanhou daaraan werk om te verseker almal op Instagram bly veilig op die platform. Terselfdertyd sal ons dit moontlik maak vir mense om toegang tot ondersteuning te kry wat ‘n verskil kan maak wanneer hulle dit die nodigste het,” sluit Mosseri af.



