KIMBERLEY. – James Spicer (39), wat vanmiddag in ’n gru-ongeluk betrokke was wat sy lewe geëis het, het ’n epileptiese aanval gehad vóór die ongeluk.
Die ongeluk het omstreeks 17:00 in Memorialweg plaasgevind.
Tracy Barnard, James se suster, het aan FiND iT bevestig hy het ’n epileptiese aanval gehad terwyl hy bestuur het en dit is die oorsaak van die ongeluk waarin hy sy lewe verloor het. “Hy het nie sy hele lewe lank aan epilepsie gely nie, maar het ’n kopbesering opgedoen wat die epilepsie veroorsaak het.”
Sy sê hy was op pad huis toe, na hy vir sy ma, wat tans in ’n kritieke toestand in die hospitaal is, gaan kuier het.
Vriende het op James se Facebook-blad gesê watter groot skok dit is om van sy heengaan te hoor.
Gerhard Grobbelaar het geskryf: “Rus in vrede James. Mag God jou familie beskerm deur die pyn en mag vrede saam met hulle wees.”
James laat sy vrou en hulle twee dogters, wat 10 en twee jaar oud is, agter.



