Eksplisiete video’s van juffrou steeds aanlyn

Deel hierdie storie / Share this story

RONDEBOSCH. – Die ondersoek na seksuele wangedrag teen Fiona Viotti, wat ’n juffrou by die gesogte Bishops Diocesan College was, duur steeds voort.

Luidens Netwerk24 sê William Booth, Viotti se prokureur, dit gaan moeilik wees om al die eksplisiete video’s waarin Viotti na bewering verskyn, van pornografiese webtuistes te verwyder.

“Hy het geen benul hoe die video’s waarin sy kliënt na bewering is, op hierdie webtuistes beland het nie,” berig Netwerk24.

Ondersoek

Guy Pearson, die skoolhoof, sê die skool se ondersoek van ernstige seksuele wangedrag duur nog voort, na dit vroeër die maand aan die lig gekom het dat ’n onderwyseres na bewering ’n seksuele verhouding met ’n 18-jarige seun gehad het.

Hy het reeds bevestig dat daar verskeie seuns oor ’n aantal jare geraak is.

Inligting

“Ons doen ’n beroep op seuns en ouers vir inligting wat tot ons ondersoek kan bydra. Ons as skool doen alles in ons vermoë om die geestelike welstand van ons seuns, die personeel en ander wat deur hierdie baie hartseer gebeure geraak word, te verseker,” sê hy.

Hy sê ook hulle kan nie in hierdie stadium meer inligting voorsien nie en kan nie ’n sperdatum op hierdie ondersoek plaas nie.