September 24, 2021

Man wat tweejariges soek vir inentings – ook op Jan Kempdorp

Foto: Voorsien. (Die onbekende man se voertuig)

KIMBERLEY. – ’n Onbekende man wat gistermiddag in Herlear rondgery het, vermoedelik op soek na tweejarige kinders, was ook doenig op Jan Kempdorp.

Yolande McDonald, ’n ma van twee, sê hy het geen vorm van identifikasie gehad toe hy gistermiddag by haar huis stop nie. “Hy het ook nie in ’n gemerkte voertuig gery nie. Hy het my gevra of ek ’n tweejarige kind het, want hy is van die departement van gesondheid en hulle ent kinders in.”

Veldtogte

Sy sê sy het daarna haar suster, wat by ’n kliniek werk, gekontak. “Sy sê hulle is nie in hierdie stadium besig met enige veldtogte nie en ent ook nie kinders op daardie ouderdom in nie.”

Sy sê hierdie man is diep in die dertig of in sy vroeë veertigs.

Jan Kempdorp

Marietjie Baird en Wil-Mari van Wyk sê hierdie man was ook verlede week in die strate van Jan Kempdorp. “Hy het in die woonbuurte rondgery en ook gevra vir kinders en het ook gesê hy is van die departement van gesondheid.”

Geen klagtes ontvang

Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê hulle het nog geen klagtes rakende hierdie voorvalle ontvang nie. “Ons gaan egter navraag by die departement van gesondheid doen.”

FiND iT het ook navraag aan die departement van gesondheid gerig, maar geen kommentaar teen tyd van publikasie ontvang nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *