Jong tiener glo met skêr by skool gesteek

KIMBERLEY. – ’n Minderjarige leerling van die Hoërskool William Pescod is na bewering gister tydens skoolure deur twee leerlinge aangeval en met ’n skêr gesteek.

Spottery

Die ma van die leerder, wat anoniem wil bly oor die sensitiwiteit van dié saak, sê sy is ongelooflik teleurgesteld in die skool. “Die twee leerders het hom in die klaskamer gespot, maar my seun het nie baie aandag daaraan gegee nie. Tydens die klaswisseling vir die laaste periode van die dag het een leerder hom aan die nek gegryp en die ander een aan die arm. Hy het probeer losruk toe hulle hom met ’n skêr steek.”

Sy sê hy het dadelik na die kantoor gehardloop, waarna die skool-sekretaresse ons gebel het. “Alhoewel die wonde nie baie diep is nie, het die sekretaresse hom buite laat wag, sonder om die wonde skoon te maak of pleisters op te sit.

Saak gemaak

“Ons het ’n saak by die polisiekantoor oopgemaak, maar is vanoggend deur die sekretaresse in kennis gestel dat die skoolhoof nog nie kans gehad het om die voorval aan te spreek nie. Die ouers van die ander betrokke leerders is ook nog nie in kennis gestel nie,” vertel die ma.

Teleurgesteld

Sy sê sy is baie teleurgesteld in die manier hoe die skool die voorval hanteer het. “Ek voel daar is prosedures in plek vir sulke voorvalle, maar dit is nie gevolg nie.”

Departement van onderwys

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, sê hulle ondersoek die voorval by die skool. “Die leerder wat die gr. 8-leerder met ’n skêr gesteek het, sal van ’n skorsingsbrief bedien word, afhangend wat die uitslag van die dissiplinêre verhoor is.

“Hy sal ook in ’n aparte lokaal, onder toesig, sy eksamen voltooi totdat die ondersoek afgehandel is.”

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat sulke tipe gedrag op ‘n skoolterrein plaasvind. “Alhoewel die voorval nie noodlottig was nie, kon dit maklik tot lewensverlies gelei het.”

Dossier

Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, het bevestig die dossier is vanoggend aan ’n speurder oorhandig. “Die betrokke kinders word in hegtenis geneem om hulle verklarings te kry en sodat hulle deur die regte prosesse gaan. Daarna word hulle vrygelaat, sodat die kinders se ouers seker kan maak hulle is in die hof op die spesifieke datums.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *