“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” vind liefde

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Juan van Rensburg (36) het op 10 Februarie 2019 breekpunt bereik en het besluit om na die Noupoort-rehabilitasiesentrum te gaan, waar hy ook nou liefde gevind het.

Die afgelope paar maande het Juan sy reis in die rehabilitasiesentrum met ons gedeel. Hy het sy moeilike tye, maar ook sy gelukkige tye, met ons lesers gedeel.

Hy het vanoggend die nuutste nuus met FiND iT gedeel. Deur al die moeilike en al die hartseer tye het hy liefde gevind. Hy is ook nie meer deel van die rehabilitasieprogram nie.

Nuwe liefde

Foto: Louréne Venter

Louréne Venter (28), Dusty se vriendin, het ook vanoggend haar deel van die storie vertel. “Ek het by die rehabilitasiesentrum gewerk toe Juan deel van die program word. Almal kon sien hy het baie gesukkel, maar die man wat daar ingestap het, is baie anders as die man wat daar uitgestap het.”

Sy sê hy het aan die begin baie gesukkel met sy emosies. “Tydens groepsessies waar hulle moet praat oor hulle gevoelens, het hy dikwels opgestaan en geloop. Hy het nie daarvan gehou om sy emosies met ander te deel nie. Hy het besef dit is die begin van verandering en het ongelooflik baie tyd saam met die Here begin spandeer. Dit is daar waar hy sy krag vandaan gekry het.

Omgee

“Ek het self deur ’n baie lelike egskeiding gegaan en het self baie seer gehad, maar om een of ander rede het ek baie omgegee vir Juan. Ek kon nie die gevoel, wat ek teenoor Juan gehad het, aan ander beskryf nie. Ons kon baie saam lag en hy het baie moeite gedoen met klein goedjies. Ek het besef ek moet vir hom baklei en agter hom staan.”

Sy sê die sentrum het baie streng reëls gehad as dit kom by verhoudings. “Ons het al die reëls gevolg en was nooit ’n ‘couple’ daar nie, so ons storie begin nou eers.”

In die wolke

Juan sê hy is in die wolke. “Dit gaan baie goed met my. Louréne het my hart gesteel en ek is baie gelukkig. Ek voel angstig oor alles wat nou voorlê en om weer deel van die buitelewe te wees, maar ek glo dit is normaal.

Houding moet reg wees

“Ek het baie nader aan die Here gekom as ooit tevore en die program het gewerk vir my. Ek het besef my houding moet reg wees, anders gaan ek nie verbeter nie. Nou moet ek leer hoe om te cope op die regte manier en om nie na ander dinge te hardloop nie,” vertel hy.

Hy sê die pad vorentoe is baie belangrik, maar hy glo alles sal okei wees. “Alles begin nou eers en ek hoop my storie kan ander, wat ook ’n probleem het of ’n verandering wil maak, inspireer.

Ondersteuning

Ellouise, Juan se suster, sê  sy is ongelooflik bly hy het liefde gevind. “Enige mens sal skepties voel, veral omdat hy nie die program voltooi het nie. ’n Mens wonder of sy kop op die regte plek is en ek glo hom as hy sê dit is. Ek ondersteun hom omdat ek wil, nie omdat ek sy sussie is en hom moet ondersteun nie.”

Sy sê sy is ongelooflik bly vir Juan en Louréne. “Sy ondersteun hom baie mooi. Ons het baie met haar gepraat tydens die program en van dag een wou sy hom toedraai in watte. Sy het regtig die mooiste hart en ek glo die Here het ’n besonderse plan vir hulle twee.”

Foto: Louréne Venter en Juan van Rensburg