KIMBERLEY. – Robert Summers (17) het sedert sy eerste pluimbal-kampioenskappe in 2011 reeds 16 Suid-Afrikaanse titels ingepalm en is vanjaar as die beste senior speler in die enkelspel sowel as dubbelspel in die land aangewys.
SA-titels
Gedurende die Junie 2019-skoolvakansie het hy aan die Junior Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem. Hy het hier drie SA Junior-titels verower deur die enkel-, seuns dubbel- en gemengde dubbelspel te wen.
Ná afloop van hierdie kampioenskappe beklee Robert die nommer 1-posisie op die Suid-Afrikaanse nasionale ranglys vir pluimbal in enkel-, seuns dubbels- en gemengde dubbelspel.

Afrika-span
Faneline Jacobsz, Robert se ma, sê hy is ook gedurende 2019 in die nasionale senior oefengroep opgeneem. “Uit hierdie groep gaan ’n span gekies word wat in Februarie aan die Afrika-span kampioenskappe, wat in Egipte plaasvind, gaan deelneem.”
Sy sê die Afrika-span wat hier wen, sal dan deurdring na die Thomas/Uber Cup Championships wat in Denemarke plaasvind.
Senior toernooie
“Robert het aan die begin van hierdie jaar vir die eerste keer aan die senior toernooie deelgeneem. Dit bestaan uit ’n reeks toernooie wat gebruik word om die Suid-Afrikaanse ranglys te bepaal. Hy is ook tydens die laaste toernooi in Oktober 2019 as die beste senior mans enkel- en dubbelspeler in die land aangewys.”
Hy beklee tans die nommer 1-posisie vir mans enkels en dubbels op junior en senior vlak op die Suid Afrikaanse ranglys.
Internasionaal
Robert sê sy doel is om eendag vir die Olimpiese en Statebondspele te kwalifiseer en sy land daar te verteenwoordig. “My groot doel vir 2020 is om meer internasionaal deel te neem sodat ek my posisie op die junior en senior wêreldranglys kan verbeter.”
Sy beste posisie op die wêreld junior ranglys vir 2019 was 152ste, wat hy sedert 2016 vanaf 700ste verbeter het.
Borgskap
“Hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het as dit nie vir die borgskap van Oranje Toyota was nie.” Dit het hom in staat gestel om aan al hierdie toernooie deel te neem. Talent, begeerte en toewyding bring jou net so ver in hierdie uiters fisieke veeleisende en mededingende sport. Dit verg groot ondersteuning soos deur Oranje Toyota om hom by die toernooie te kry, asook op die podium,” verduidelik die trotse ma.





